Edelsteen

Die vyf belangrikste edelstene van die antieke wêreld. Kloksgewys van bo: saffier, robyn, smarag, ametis, diamant

'n Edelsteen is 'n seldsame mineraal wat as besonders geag word vanweë die stof se skoonheid en meganiese eienskappe. Die begrip edelsteen is subjektief en is afhanklik van die kultuur waarin mense leef. In China word die jadegesteente as uiters waardevol beskou. Ander bekende edelstene is die diamant, robyn, saffier, akwamaryn en smarag. Minerale wat nie ten volle aan die vereistes voldoen wat 'n edelsteen sou beskryf nie, word na verwys as halfedelstene.

Edelstene is ook gesogte variëteite van sekere mineraalsoorte en het oor 'n tydperk van miljoene jare deur verskillende geologiese prosesse in die aardkors ontstaan. Enige harde mineraal met 'n besonder mooi kleur en glans kan as 'n edelsteen beskou word. Sulke minerale is natuurlik baie seldsaam en is deur die mens van die vroegste tye af hoog geskat en as juwele of edelstene beskou. In werklikheid is hulle uit doodgewone stowwe saamgestel: koolstof, silika, alumina, en so meer. Hul pragtige kleure het hulle te danke aan geringe hoeveelhede metale soos yster, koper en chroom wat vermeng is.

Edelstene word gewoonlik in fassetvorm geslyp, waardeur die invallende liggolwe só intern weerkaats word, dat die stene deur middel van hul skittering die aandag trek. En uiteraard gaan 'n groot gedeelte van die aandag na die draer of draagster van die steen. In die Westerse kultuur van die 20ste- en 21ste eeu is edelstene meestal deur veral vroue gedra. Geslypte edelstene word oor die algemeen na verwys as juwele.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search